Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/11/2011 – 12:02
Year A (2010-2011)
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 20
Verse: 1 – 18
Johannes 20:1-18

Johannes 20:1-18 bundel twee aangrypende verhale saam: Die verhaal van die dissipels se ontdekking van die leë graf en die verhaal van Jesus se persoonlike ontmoeting met Maria Magdalena. Hierdie twee verhale verteenwoordig twee belangrike fasette van die Paasevangelie.

Aan die een kant is daar die onbeskryflike, onverklaarbare, heerlike magsdaad van die Vader wat sy Seun uit die graf opwek. Hiervan ontdek die dissipels alleen die “spore” – die leë graf met die engele en die opgerolde grafdoeke. Al sou die implikasies hiervan tot aan die uithoeke van die wêreld en die einde van die tye uitkring, is die dissipels veslae getuies met min aanvanklike begrip.

Aan die ander kant is daar die intieme, liefdevolle verhaal van die opgestane Jesus se gepsrek met Maria Magdalena. Haar stukkende lewe, voorheen heelgemaak deur Jesus (Lukas 8:2), het weer aan skerwe gelê deur die gedagte dat Hy gekruisig is en dood is. Maar Jesus raak haar lewe weer aan en bring nuwe hoop en vreugde vir haar persoonlik.

Die boodskap van die opstandingsevangelie is ‘n boodskap van hoop! Dit gee ons die geleentheid en vrymoedigheid om oor die hoop wat in ons leef, te getuig (vgl 1 Pet 3:15).

Aan die een kant is dit is ‘n hoop wat ten nouste verbind is aan die magsdaad van die Vader wat sy Seun uit die graf gewek het. Die boodskap van die opstandingsevangelie is die proklamering van Christus as oorwinnaar. Ons mag sy oorwinning proklameer oor alles wat ons van ons hoop (probeer) beroof en wat ons onder die skadu van die dood wil laat leef: dink byvoorbeeld aan die “sewe reuse van ons tyd” wat die SACLA konferensie van 2003 beskryf het: MIV-&-vigs, geweld, misdaad, rassisme, armoede-&-werkloosheid, seksisme en gesin-in-krisis. Die boodskap dat Christus die dood oorwin het en lewe, bring hoop aan gemeenskappe wat “deur hierdie reuse gevange gehou word”.

Aan die ander kant is die hoop van Paasfees ten nouste gekoppel aan die Persoon van die lewende Christus, ons Here Jesus, wat sy dissipels liefdevol opsoek. Hy bring hoop aan individue, die Maria Magdalenas, wat alleen maar van hulle persoonlike smart bewus is. Hulle mag hoor dat die Een wat ons so liefgehad het dat Hy sy lewe aan die kruis geoffer het, is nou die lewende Here wat ons opsoek en ons lewens kom heel maak.

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans