NULL
Bible Book: Isaiah / Jesaja
Chapter: 49
Verse: 1
Verse (to): 0

 

Daar is ‘n paar verwysings daarna dat God mense roep in Jesaja 49:1-7. “Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder se liggaam was, het Hy my op my naam genoem”, sê die dienaar in vers 1. Die idee dat die dienaar deur die Here in die moederskoot gevorm is, word in vers 5 herhaal. In vers 3 sê die Here: “Jy is my kneg, Israel , in wie Ek My verheerlik (1953 vertaling). Vers 7 sluit af met die stelling dat die Here “die Heilige van Israel (is) wat jou uitverkies het”.

Daar is baie antwoorde gegee op die vraag wie die dienaar is. Wat my interesseer, is wat hierdie Skrifgedeelte ons vertel van wat dit beteken om dienaar van die Here te wees.
Volgens Jesaja is om dienaar van die Here te wees, nie gemaklik en sonder eise nie. Dit is vermoeiend. In vers 4 kla die dienaar dat hy hom (sy haar) vergeefs vermoei en verniet afgesloof het. Vers 7 verwys na iemand wat verag en verafsku word. Om dienaar van die Here te wees, mag veeleisend en selfs onaangenaam wees.
‘n Tweede aspek van wat dit beteken om dienaar van die Here te wees, is dat die Here die dienaar nie ter wille van hom- of haarself roep nie. Die dienaar word ter wille van “ander” geroep. Volgens vers 5 is die roeping van die dienaar om Israel na die Here terug te bring. In vers 6 word dit uitgebrei om nasies in te sluit: “Ek maak jou ‘n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.” Dit stem ooreen met die eerste woorde van die hoofstuk waar die dienaar met die eilande en die nasies wat ver is, praat.
Dis duidelik dat God, wat sy dienaar roep, die hele wêreld in gedagte het.
Dis ‘n wonderlike voorreg om dienaar van die Here te wees – of dit in ‘n vigsprogram (organisasie) of enige ander bediening is. Die gevaar is egter om te aanvaar dat God se roeping ter wille van “my” of “ons” is. In Jesaja 49:1-7 word die dienaar met ‘n groter doel geroep: om mense na die Here te bring. Om ‘n lig vir die nasies te wees. Om instrument in die Here se hand te wees om Hom te verheerlik (vgl verse 2 – 3).
Om oor na te dink (of te bespreek): Met watter doel is jy geroep?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans